Vat hande vir Cotlands

Vat hande vir Cotlands

Met die ekonomie wat knyp, word die krane van finansiële hulp na die verskeie gemeenskapsprojekte natuurlik ook dikwels stywer toegedraai. 

Een van die verdienstelike projekte in die Helderbergkom is Cotlands, 'n nie-winsgewende organisasie wat omsien na sowat 52 kinders vanaf geboorte tot 6-jaar wat wees gelaat is, gemolesteer is, óf geïnfekteer of geaffekteer is deur HIV/Vigs.  Om hierdie onontbeerlike werk suksesvol te kan volhou benodig die sentrum tot R7 miljoen per jaar en hul grootste uitgawes bestaan uit doeke, kos en medikasie.  Cotlands se benadering sluit in psigo-sosiale en opvoedkundige dienste, sowel as broodnodige gesondheidsorg. 

‘n Plaaslike maatskappy, SciFin, het onlangs onderneem om nie langer op die kantlyn te staan nie, maar in te spring en hul bydrae te maak. ‘n Spesiale fondsinsamelings ete en dans is gereël vir 17 Augustus by In the Vineyard langs die R44 buite Somerset-Wes.  “Ons daag ander maatskappye uit om hul sosiale verantwoordelikheid te volvoer deur met ons hande te vat vir Cotlands,” sê Dirk van Loggerenberg, besturende direkteur van SciFin, ‘n maatskappy wat spesialiseer in batefinansiering veral in terme van tegnologiebates.  “Die geleentheid word volledig deur SciFin ondersteun en die maatskappy beoog om ‘n groot finansiele bydra vir Cotlands te maak na afloop van die funksie. Daar is ook heelwat geborgde pryse wat deur die aand gewen kan word.”  

Kaartjies beloop R300 per persoon en sluit ‘n luukse 3-gang ete en dans in wat om 19:30 afskop.  Belangstellendes kan vir Ronelle skakel by 083 556 0918 of Irma by 083 352 3396 voor of op Vrydag 12 Augustus.  Maatskappye word aangemoedig om ‘n tafel te bespreek – kaartjiekoste kan teruggeëis word van belasting. Cotlands sal ook Corporate Social Investment (CSI) sertifikate aan maatskappye wat pryse borg beskikbaar maak. Besoek gerus www.cotlands.org vir meer inligting oor hoe jy ‘n verskil kan maak.